Thursday, October 10, 2013

Wanneer die droom 'n nagmerrie raak


Ek is 'n finansiële beampte. Ek bestuur die finansiële sisteem van die kantoor, asook ander entiteite binne die struktuur. Nou, enige iemand wat my ken, sal dadelik vra: WAT? FINANSIES? Jy? Dit is my verhaal:

Ek het die BCom Rek, soos vele ander mense, aangedurf en daarin gefaal. Nie omdat ek nie slim genoeg is nie, maar bloot net omdat dit nie my ding is nie. Geen belangstelling, jy sien? So verander ek my rigting na die Tale. Wat wou ek word? Ek weet nie. 'n Skrywer? 'n Joernalis? 'n Dromer?

Maar ek het toegelaat dat die wind my rondwaai en ek het gegaan waar ek 'n opening gesien het, want werk is skaars en die voordele is tog so wonderlik. Ek studeer as 'n linguis. Ek het 'n Magistergraad, maar ek het my siel verkoop. Aan die duiwel? Seker nie so seer nie, maar hier sit ek nou. 28 en rusteloos, want ek is nie waar ek wou wees nie (nie dat ek regtig weet waar dit is nie).

Ek weet net dat ek 'n mense mens is. Dat ek wil lag en dans en net gelukkig wees. Ek wil aanhou glo dat die mensdom wonderlik is en nie net uit is om jou te kry nie. Ek wil onthou hoe dit voel om kaalvoet in sand te speel, Oopmond te hardloop en van 'n fiets af te val. Ek is nie 'n syfermens nie. Ek verstaan syfers - eintlik meer patrone en strukture, maar dit beteken nie ek is 'n syfermens nie.

So, ek begin nou maar van vooraf. Ek gaan lê aanlegtoetse af en soos ek elke vraag lees wonder ek by myself: "Wat soek jy nog daar?" "Jy haat finansies?" "Jy WEET dit!" En ek begin weer droom van dae gelede en redes hoekom ek nog hier is. En dan stuur ek maar 'n epos in die hoop dat hulle na my sal luister en net sal hoor hoe ek vanuit die dieptes fluister: "Julle versmoor my!"

En sodra ek totale hoop verloor (in die mensdom en die belaglike sisteem), kry ek mini orgadieë by 'n Mandareinse tolk, 'n nota boekie (en 'n stresbal) by 'n Gebaretaal tolk en 'n KitKat by iemand wat terug by die werk is nadat sy twee weke in die hospitaal was. En ek moet glad nie nalaat om te vertel dat my sangoma vriendin voel dat ek haar inspirasie op alle vlakke van haar lewe is.

Vandag se les? Ek is nie regtig seker nie, maar ek weet dat daar tog nog bietjie hoop in hierdie duister lewe is. Mense sien jou op snaakse tye raak.

No comments: