Wednesday, October 23, 2013

Waarheen nou?



Die afgelope tyd voel dit of my siel bietjie vir bietjie wegbreek. Ek is ’n werkende ma, soos soveel mense voor my en saam met my. My seun is 6 en ’n half maande oud, seker nader aan 7 maande – die jaar het onder my voete spoed gevat. Alles binne my wil by hom wees, elke oomblik, elke dag vandat hy sy oë oop maak, tot hy gaan slaap. Al is ek deur die nag onsettend kwaad vir hom omdat hy tog net nie wil slaap nie, geniet ek elke “chinese smile” wat hy skaam-skaam in die oggende vir my gee. Elke skaterlag terwyl ek hom in my arms vashou en elke tong wat hy wil my uitsteek en vol spoeg blaas. 

En dan gaan laai ek hom by die kleuterskool af, my hart bly by hom agter en ek moet na ’n plek gaan waaraan ek so hard aan die res van my menswees vasklou sodat my laaste bietjie siel nie daar onder my lessenaar sterf nie.

Is dit maar net die tyd van die jaar waar almal hulle moed hulle verlaat en waar hulle net bid vir Desember sodat hulle net kan asemskep? Het ek waarlik nou die punt bereik waar ek my oë moet toeknyp, eers al my opsies oorweeg, spring en hoop dat die besluit wel ten goede van my kind, my wonderlike man en myself gemaak is? Of moet ek net rustig wag vir Januarie en hoop dat 2014 beter in my hande sal ontblom?

Ek weet nie eintlik nie. Ek weet net dat ek tans met my rug teen ’n muur staan en ek hopelik die regte venster sal kry om deur te glip. Voordat dit te laat is...

No comments: