Wednesday, October 23, 2013

Waarheen nou?



Die afgelope tyd voel dit of my siel bietjie vir bietjie wegbreek. Ek is ’n werkende ma, soos soveel mense voor my en saam met my. My seun is 6 en ’n half maande oud, seker nader aan 7 maande – die jaar het onder my voete spoed gevat. Alles binne my wil by hom wees, elke oomblik, elke dag vandat hy sy oë oop maak, tot hy gaan slaap. Al is ek deur die nag onsettend kwaad vir hom omdat hy tog net nie wil slaap nie, geniet ek elke “chinese smile” wat hy skaam-skaam in die oggende vir my gee. Elke skaterlag terwyl ek hom in my arms vashou en elke tong wat hy wil my uitsteek en vol spoeg blaas. 

En dan gaan laai ek hom by die kleuterskool af, my hart bly by hom agter en ek moet na ’n plek gaan waaraan ek so hard aan die res van my menswees vasklou sodat my laaste bietjie siel nie daar onder my lessenaar sterf nie.

Is dit maar net die tyd van die jaar waar almal hulle moed hulle verlaat en waar hulle net bid vir Desember sodat hulle net kan asemskep? Het ek waarlik nou die punt bereik waar ek my oë moet toeknyp, eers al my opsies oorweeg, spring en hoop dat die besluit wel ten goede van my kind, my wonderlike man en myself gemaak is? Of moet ek net rustig wag vir Januarie en hoop dat 2014 beter in my hande sal ontblom?

Ek weet nie eintlik nie. Ek weet net dat ek tans met my rug teen ’n muur staan en ek hopelik die regte venster sal kry om deur te glip. Voordat dit te laat is...

Thursday, October 10, 2013

Wanneer die droom 'n nagmerrie raak


Ek is 'n finansiële beampte. Ek bestuur die finansiële sisteem van die kantoor, asook ander entiteite binne die struktuur. Nou, enige iemand wat my ken, sal dadelik vra: WAT? FINANSIES? Jy? Dit is my verhaal:

Ek het die BCom Rek, soos vele ander mense, aangedurf en daarin gefaal. Nie omdat ek nie slim genoeg is nie, maar bloot net omdat dit nie my ding is nie. Geen belangstelling, jy sien? So verander ek my rigting na die Tale. Wat wou ek word? Ek weet nie. 'n Skrywer? 'n Joernalis? 'n Dromer?

Maar ek het toegelaat dat die wind my rondwaai en ek het gegaan waar ek 'n opening gesien het, want werk is skaars en die voordele is tog so wonderlik. Ek studeer as 'n linguis. Ek het 'n Magistergraad, maar ek het my siel verkoop. Aan die duiwel? Seker nie so seer nie, maar hier sit ek nou. 28 en rusteloos, want ek is nie waar ek wou wees nie (nie dat ek regtig weet waar dit is nie).

Ek weet net dat ek 'n mense mens is. Dat ek wil lag en dans en net gelukkig wees. Ek wil aanhou glo dat die mensdom wonderlik is en nie net uit is om jou te kry nie. Ek wil onthou hoe dit voel om kaalvoet in sand te speel, Oopmond te hardloop en van 'n fiets af te val. Ek is nie 'n syfermens nie. Ek verstaan syfers - eintlik meer patrone en strukture, maar dit beteken nie ek is 'n syfermens nie.

So, ek begin nou maar van vooraf. Ek gaan lê aanlegtoetse af en soos ek elke vraag lees wonder ek by myself: "Wat soek jy nog daar?" "Jy haat finansies?" "Jy WEET dit!" En ek begin weer droom van dae gelede en redes hoekom ek nog hier is. En dan stuur ek maar 'n epos in die hoop dat hulle na my sal luister en net sal hoor hoe ek vanuit die dieptes fluister: "Julle versmoor my!"

En sodra ek totale hoop verloor (in die mensdom en die belaglike sisteem), kry ek mini orgadieë by 'n Mandareinse tolk, 'n nota boekie (en 'n stresbal) by 'n Gebaretaal tolk en 'n KitKat by iemand wat terug by die werk is nadat sy twee weke in die hospitaal was. En ek moet glad nie nalaat om te vertel dat my sangoma vriendin voel dat ek haar inspirasie op alle vlakke van haar lewe is.

Vandag se les? Ek is nie regtig seker nie, maar ek weet dat daar tog nog bietjie hoop in hierdie duister lewe is. Mense sien jou op snaakse tye raak.

Monday, September 30, 2013

The voices in my head



Vandag is een van daardie dae wat ek net graag wil oor begin. Eintlik die hele verlede week. En sommer die afgelope drie maande. Ek wil weer terugkom na ’n atmosfeer en omgewing waar mense tog te dankbaar is dat ek terug is en my opinie rakende die werk in ag neem en my te waardeer. Ek wil nie hier wees nie. Nie vandag nie, ook nie môre nie.

Dalk volgende week?

Thursday, September 19, 2013

Jy moet iets hê om na uit te sien


Ek sien elke dag hoe my 5 maande oue seun groter raak en met elke dag raak daardie nuuskierige kyk in sy oë net meer helder. Elke dag ontdek hy iets nuuts en elke dag is nog vir hom 'n wonderwerk.

En ek sukkel om soggens uit die bed op te staan.

Hy is glad nie die rede vir hierdie gedrag nie. Hy is die tou om my middel wat my op die ou end op my voete kry. Hy is tans my lewe, my toekoms, my alles. Maar elke oggend gaan laai ek hom vol geselsies en laggies en soentjies af. 8ure later, kry hy 'n soen op sy wang en 'n stil rit terug huistoe. En die groot antwoord op hierdie vreemde verskynsel: Die realiteit.

Ons is weer besig, soos elke jaar die tyd, met die studente te praat oor 2014, sodat hulle kan beplan en ons dan nou ook. Een van ons studente staan nou by haar kruispad. Bly of gaan sy? Dit is haar keuse op die oomblik. Gaan sy, kan sy verder aan haar drome werk. Bly sy, raak sy deel van die roetine waar drome gaan om te verlep, uit te droog en verkrummel soos die mense bo jou daarop trap en vir jou lag.

Dit is die realiteit, die waarheid. Die gedeelte van die storie wat jou ouers jou nooit vertel nie, want net nou bly jy te lank in hulle huis.

Tog kan jy jouself leer om gelukkig te wees. Jy kan jouself leer om ook van vooraf die dag te ontdek, die wonderwerkie te sien. Vandag weet ek nie lekker hoe nie, want die lug is oranje van al die stof, dit wil nie reën nie, my gemoed wil nie bedaar nie en my bors trek toe. Verdomde Vrystaat!

Maar jy kan leer. Jy kan leer om jouself te wees sonder om ander mense te pla. Jy kan leer om jou nie daaraan te stuur wanneer iemand sê jy lyk nie netjies nie. Jy kan leer om gelukkig te wees met dit wat jy doen. Met dit wat jy wel bereik het en jouself op die skouer te klop oor die keuses wat jy gemaak het waarvan niemand tog weet nie, maar wat soveel vrugte dra. En sluk dit af met 'n glas rooi wyn.

Môre is nog 'n dag, nog 'n kans vir oorbegin en as ek na nog goed soek om na uit te sien, staan ek in die middel van die nag op, loer oor die rant van die kot en dank die Liewe Vader vir nog 'n dag, nog 'n kans saam met my wonderlike, lieflike kind.