Tuesday, October 6, 2009

Ek staar nou maar na die ceiling, want die ander mense in my kantoor is hard aan die werk en hier sit ek met my vinger - albei vingers – in my oor. Dit klop eintlik nie met my logika nie, want ewe skielik het ek nou hierdie beeld van myself in my geestes oog waar ek met my tone op die rekenaar se keybord tik en ek met albei wysvingers die grys massa van ’n brein my een oor wil uitgrawe en tot ’n palp slaan. Wat help die goed tog - ek kry nie gedoen wat ek eintlik moet doen nie.

Ek het eintlik nie ’n probleem met my brein nie.

Dis daardie stemmetjie. Daardie knaende, aanhoudende stemmetjie wat so graag wil hê ek moet luister. Ek het op ’n stadium ’n naam vir die stem gehad. Ek het geluister ook. Dit was daardie dae waar ek in tydens pouses teen die wit muur teen die son gesit en verhaaltjies van die liefde en feetjies en kabouters geskryf het. Toe was die stemmetjie se naam Mthembu.

En nou staar ek na die skerm. En foto’s om die skerm. Foto’s van glimlaggende mense wat vol vreugde is en wat soveel drome nog het. Waar soveel beloftes nog wag. Naïewe mense. Dis ’n gesig van iemand wat ek skaars herken. Hoekom wil jy foto’s van jouself iewers hê as jy weet dat dit so ’n kotserige bitterheid in jou binneste opstoot?

Hoekom wil jy nie print nie? Print! Print! Dammit, dom, ou, stukkende Printer!

Oh, die ding was gepause.

Ontspan

Haal asem

Begin weer

Nog 'n uur oor. Hoe op aarde is dit moontlik dat 7 ure soos ’n ewigheid kan voel? Ek weet nie hoekom ek so is nie. Ek was nooit die mens nie. Ek was mal oor Mthembu en ons het lekker tye saam gehad. Sy is meer as net ’n stem. Sy het ’n gesig, oë, neus en mond. Sy het ’n liggaam, arms en bene. Sy was my beste pêl.

Hoekom nie meer nie? Hoekom werk ons nou net saam en wanneer sy met my praat dan kry ek koue rillings tot in my tone. Ek sal bietjie moet dink wat gebeur het...

Ek onthou: sy is ’n sangoma.

No comments: