Gisteraand gesels ek met 'n vriend op Mxit en hy vertel toe dat sy dag vinnig verby is, maar dat dit nie altyd 'n goeie ding is nie, want dan vlieg jou lewe verby jou en voor jy weet, is jy oud en jou lewe is verby...
Is dit so 'n verskriklike ding om oud te word? ek is nie een wat regtig kan kla nie, want ek hou daarvan om jonk te wees, maar ek is eintlik besig om myself sielkundig voor te berei dat ek binnekort 23 word. Nie dat dit regtig so erg is nie, want ek het steeds my lewe wat voor my lê.
Ek is nie bang vir grootword nie, my grootste vrees is eintlik dat ek my kinderlike verbeelding sal verloor. En mense kan sê wat hulle wil, ek hou daarvan en dis wie ek is. As ek dit ewe skielik net moet "weggooi", voel ek dat daar nie veel van my sal oor bly nie.
Niemand weet hoe lank hulle gaan lewe nie en dan is dit seker skrikwekkend dat jy eendag wakker en besef dat jy nooit so gepyn het as jy loop nie, dat jy wonder waarheen al die jare is wat jou nou so oud en krom gelos het - indien jy gelukkig is om dit te ervaar - maar is dit dan nie ons plig as jongeling om seker te maak dat jy wonderlike herhinneringe het om op terug te val nie? Dat jy nie moet kyk na al die mense wat jou teleurgestel het nie, maar na die wat jou deur die moeilike tye gehelp het.
Ons mense het net 'n spesifieke tyd om op die aarde te wees, so ek dink dis ons plig om so veel mense moontlik aan te raak en te help dat hulle ook hul gemoedsrus kan hê oor die dae wat kom.
Ek gee nie om dat die tyd vlieg nie, want ek het wonderlike vriende wat daar is maak nie saak wanneer nie. Ek kan hulle ondersteun wanneer hulle my nodig het. Ek het liefde in my lewe... hoekom is mens dan bang vir die onbekende?
No comments:
Post a Comment