Sunday, November 16, 2008

Werk

Ek weet dat dit nie help om te kla nie, maar ek dink dat dit soms nodig is, veral as niemand regtig vir jou luister nie...

Ek is nie 'n lui mens nie, wel, ek is op my tyd, maar as ek werk het dan doen ek dit. Veral as ek daarvoor betaal word. Maar wanneer jy iets doen wat nie meer opwindend is nie of iets wat jou gen meer uitdagings bied of jou intelligensie onderskat en tart, dan benodig mens meer as daardie pay check wat aan elke einde van die maand op jou tafel lê.

Wat help dit om elke dag vroeg op te staan, te smile - want dis al wat mense blykbaar van jou sien - en net vriendelik te wees as jy geen motivering daarvoor kry nie. As jy nie meer 'n "goeie werk" kry nie? Want jy werk vir een persoon, maar ander stuur jou gedurig rond, soms twee keer na mekaar na dieselfde plek. Jy werk net 'n sekere aantal ure 'n dag, maar van jou word daar verwag om als gelyk te doen...

En wanneer die einde van die week kom, besef jy dat jy als gedoen het, behalwe wat jy moes, want jy werk jouself dood om vure dood te slaan of om ander mense uit hul moeilikhede te help, maar dit word nie raak ggesien nie. Dit word nie gesien dat jy jou oemf verloor omdat jy net sielkundig uitgeput is nie. Dat jy agter die smile op jou tande kners om nie te begin skree nie.

Ek werk net so hard soos die ander... as dit nie harder is nie. Dit word net nie raak gesien nie.

Friday, March 14, 2008

Vir 'n slag net rus...

[Die grootste rede vir my afwesigheid is oor die kabaal wat deesdae hier in Kovsie land aan die gebeur was of nogsteeds is... ek kom dit net agter as ek nuus kyk of koerant lees, maar hulle kan mos 'n storie so ver uitrek dat jy dit nie eers meer erken nie...
Maar wat ek eintlik wil sê, ek moes myself effe anger management gee, sodat ek nie iewers 'n aar pop as gevolg van als nie. Ek is tot verbied om die nuus te kyk...tsk tsk tsk.
Maar siende dat ek amper gister in die gym omgekap het, is ek weer terug om my sorge te deel.]

Akademie... "sug"

Thursday, February 14, 2008

Valentynsdag

Altyd wanneer die dag nader kom verbeel ek myself, en vertel natuurlik vir almal wat belangstel, dat dié dag my nie aanstaan nie. Dat, wie gee om oor dit en dit is net 'n dag waar mense baie geld maak...
Tog, wanner die dag hier aankom, is ek hartseer. Al probeer ek hoe hard om my vel dik te maak, is dit vir my baie erg om alleen te wees op hierdie dag.
Maar jy kan ook nie altyd help dat jy alleen is nie. Daar val altyd iets voor, bv dat julle by verskillende Universiteite swot of julle is geskei agv werk of iets... Jy is nie noodwendig single op Valentynsdag nie.
Maar wat is eintlik erger? Om nie iemand te hê nie of om wel iemand te hê wat jou hartsnaar tokkel, maar hy/sy kan nie by jou wees nie?
Ek dink nog steeds dat jy nie hoef groot te gaan op die dag vir die liefde en verlieftes nie, maar net om by iemand te wees vir wie jy op daardie oomblek die berge sal versit, is genoeg vir my.
Ek het vanoggend besef dat ek bly is oor my blomme wat ek gekry het, maar ek sal al die blomme in die wêreld verruil net om die glimlag in sy oë te sien.
Hoop julle het 'n liefdevolle rooi hartjie dag.
Mwah!

Tuesday, January 29, 2008

Nog 'n maand op sy einde

Gisteraand gesels ek met 'n vriend op Mxit en hy vertel toe dat sy dag vinnig verby is, maar dat dit nie altyd 'n goeie ding is nie, want dan vlieg jou lewe verby jou en voor jy weet, is jy oud en jou lewe is verby...
Is dit so 'n verskriklike ding om oud te word? ek is nie een wat regtig kan kla nie, want ek hou daarvan om jonk te wees, maar ek is eintlik besig om myself sielkundig voor te berei dat ek binnekort 23 word. Nie dat dit regtig so erg is nie, want ek het steeds my lewe wat voor my lê.
Ek is nie bang vir grootword nie, my grootste vrees is eintlik dat ek my kinderlike verbeelding sal verloor. En mense kan sê wat hulle wil, ek hou daarvan en dis wie ek is. As ek dit ewe skielik net moet "weggooi", voel ek dat daar nie veel van my sal oor bly nie.
Niemand weet hoe lank hulle gaan lewe nie en dan is dit seker skrikwekkend dat jy eendag wakker en besef dat jy nooit so gepyn het as jy loop nie, dat jy wonder waarheen al die jare is wat jou nou so oud en krom gelos het - indien jy gelukkig is om dit te ervaar - maar is dit dan nie ons plig as jongeling om seker te maak dat jy wonderlike herhinneringe het om op terug te val nie? Dat jy nie moet kyk na al die mense wat jou teleurgestel het nie, maar na die wat jou deur die moeilike tye gehelp het.
Ons mense het net 'n spesifieke tyd om op die aarde te wees, so ek dink dis ons plig om so veel mense moontlik aan te raak en te help dat hulle ook hul gemoedsrus kan hê oor die dae wat kom.
Ek gee nie om dat die tyd vlieg nie, want ek het wonderlike vriende wat daar is maak nie saak wanneer nie. Ek kan hulle ondersteun wanneer hulle my nodig het. Ek het liefde in my lewe... hoekom is mens dan bang vir die onbekende?

Thursday, January 24, 2008

En ek is terug

Die dae gaan deesdae al hoe vinniger verby en ek begin wonder wat ek die afgelope paar jaar gedoen het, want iewers het dinge so deurmekaar geraak dat ek my tweede jaar omruil met die eerste en so kan ek aangaan. My herhinneringe raak deurmekaar, maar dit maar seker nie saak hoe dit gebeur het nie, solank ek net kan weet dat dit wel gebeur het en dat ek steeds daar aan kan vasklou asof dit vandag was.
Ek het vandag weer in my blog gegaan met die idee dat ek weer wil begin skryf, maar eintlik het ek nie iets nie. ek het die vakansie aan baie goed gelê en dink. Van politiek tot die liefde. Van die vreugde van elke dag tot by Eskom wat ons in die donkerte laat sit (die kerse maak dit romanties, wat my weer terug vat na die liefde). Maar wat ek eintlik wil sê, is: "Hê geduld met my, want ek effe broos, die bottel Tassies het my gisteraand hard geslaan.
Ek vind dit steeds moeilik om te besef dat ek die jaar in my vierde akademiese jaar is en dat ek nou 'n getransformeerde Vrystater is. Dit begin my eers vang as ek 'n eerste jaar raak loop, en dit lyk of die kind nog in die skool moet wees.
Dis 2008... Ek glo dat die jaar 'n mooi jaar gaan wees, al gaan dit moeilik wees om dit in die donker te sien. Die jaar hou vir almal baie dinge in. Ons raak almal ouer en dinge verander elke dag, mens moet net leer om elke dag se potensiaal te sien.
Ek voel die jaar ook anders. Ek voel dit binne my dat ek wel ouer raak, maar darem nie oor die muur is nie. Ek het meer vertroue in myself en ek dink anders oor die lewe. Mense verwag sekere goed van my en sien dit as my plig om hulle te verbaas... Dis nogal prettig om dit te doen.
Wel, die dag is nog 'n papie, so ek moet gou weg gaan om bietjie werk te doen...

Tot later dan