Ek sien elke dag hoe my 5 maande oue seun groter raak en met elke dag raak daardie nuuskierige kyk in sy oë net meer helder. Elke dag ontdek hy iets nuuts en elke dag is nog vir hom 'n wonderwerk.
En ek sukkel om soggens uit die bed op te staan.
Hy is glad nie die rede vir hierdie gedrag nie. Hy is die tou om my middel wat my op die ou end op my voete kry. Hy is tans my lewe, my toekoms, my alles. Maar elke oggend gaan laai ek hom vol geselsies en laggies en soentjies af. 8ure later, kry hy 'n soen op sy wang en 'n stil rit terug huistoe. En die groot antwoord op hierdie vreemde verskynsel: Die realiteit.
Ons is weer besig, soos elke jaar die tyd, met die studente te praat oor 2014, sodat hulle kan beplan en ons dan nou ook. Een van ons studente staan nou by haar kruispad. Bly of gaan sy? Dit is haar keuse op die oomblik. Gaan sy, kan sy verder aan haar drome werk. Bly sy, raak sy deel van die roetine waar drome gaan om te verlep, uit te droog en verkrummel soos die mense bo jou daarop trap en vir jou lag.
Dit is die realiteit, die waarheid. Die gedeelte van die storie wat jou ouers jou nooit vertel nie, want net nou bly jy te lank in hulle huis.
Tog kan jy jouself leer om gelukkig te wees. Jy kan jouself leer om ook van vooraf die dag te ontdek, die wonderwerkie te sien. Vandag weet ek nie lekker hoe nie, want die lug is oranje van al die stof, dit wil nie reën nie, my gemoed wil nie bedaar nie en my bors trek toe. Verdomde Vrystaat!
Maar jy kan leer. Jy kan leer om jouself te wees sonder om ander mense te pla. Jy kan leer om jou nie daaraan te stuur wanneer iemand sê jy lyk nie netjies nie. Jy kan leer om gelukkig te wees met dit wat jy doen. Met dit wat jy wel bereik het en jouself op die skouer te klop oor die keuses wat jy gemaak het waarvan niemand tog weet nie, maar wat soveel vrugte dra. En sluk dit af met 'n glas rooi wyn.
Môre is nog 'n dag, nog 'n kans vir oorbegin en as ek na nog goed soek om na uit te sien, staan ek in die middel van die nag op, loer oor die rant van die kot en dank die Liewe Vader vir nog 'n dag, nog 'n kans saam met my wonderlike, lieflike kind.