Tarien
Die dorre Vrystaatssand maak die oggend lig rooi terwyl
Tarien oor haar verlepte mielieblare uitstaar. “Ek wens dit wil reën” sug sy
binne haar vroeë oggend koffie. Volgens teorie moes sy nooit volgens skedule
geplant het nie en al die ander boere in die omgewing het net hulle koppe
geskud terwyl sy dag in en dag uit op haar trekker die harde grond oopgebreek
het. Die boorgat is al amper leeg van die droogte en die beeste is maer van die
min voer wat sy elke maand by die ko-operasie kan koop, maar al waaraan Tarien
vasklou is haar pa se stem: “My kind,
ons plant wanneer ons moet plant. Ons sorg dat die sade in die grond is en die
Vader sal sorg vir die reën.”
En dis waar dit gebly het. Ek het die hele storie in my kop uitgelê: Wie op wie verlief raak, Tarien se oorwinning van swakkeling tot oorwinnaar. Die nerd, Gerhardus, wat toe al die tyd awesome is... Daardie tipe ding. Maar ek kon net een paragraaf oor Tarien skryf. Lees mense nog ooit?
Ek het 'n tweede verhaal probeer. Ek het lank daaroor gedink en ek het die openingssin uitgedink toe ek die dag baie depresief was. Diep in die onderste donkerte waar jy skaars die ligstale oor jou vingers kan voel spoel. Daar het ek aan iets gedink waaraan ek moontlik kan werk. Die verhaal van een persoon.
Dit was die dag na my vyfde verjaarsdag toe my ma selfmoord gepleeg het. Ek onthou nie baie van haar nie. Soms, wanneer ek baie stil in die donker lê en ek kan skaars die krieke in die laatnag hoor, kan ek haar glimlag in my gedagte herken. Ek probeer foto's aan verhale koppel, maar al wat ek spesiek van haar kan onthou, hou verband aan daardie dag, die dag na my vyfde verjaarsdag toe my ma selfmoord gepleeg het.
Maar dan raak ek te hartseer, want vir my om so iets te skryf moet ek myself indink as iemand wat nie 'n ma na die ouderdom van vyf gehad het nie. Of ek begin dink wat as my seuntjie sonder my sal grootword? Ek wil nie dit mis nie. Hoe was dit vir die ma om nie te weet hoe haar kind uitgedraai het nie? Hoe is iemand wie ingeloop het en sy/haar ouer, kind, vriend te sien? Lewensloos? Asemloos? Droomloos?
Ek moet maar na die kinderverhale beweeg, maar dis nog 'n groter probleem, want ek kan nie teken nie.