Toe ek 'n kind was, het my ouma ons van die speletjie vertel. Iemand is die uil op die kluit en die res van die maatjies gaan staan in 'n kring en bespreek jou. Sodra elkeen nou hul sê te sê gekry het en hul eie opinie oor jou nou uitsorteer het, kom staan hulle nou in 'n kring om jou. Die hoofmeisie sal dan begin:
Iemand sê jou asem stink. Jy raai dis Ingrid
Iemand sê jou bene is te wit vir die kort rokkie. Jy raai dis Ingrid
Iemand sê jy lag te veel. Jy raai dis Ingrid
Iemand sê jy mag nie gelukkig wees nie. Jy raai dis Ingrid
Jy doen jou werk nie. Ingrid
Jy mag nie jou eie kantoor hê nie. Ingrid
Hoekom bel jy nie die mense nie. Ingrid
Jys te vet. Jys te dom. Jou hare is nie gekam nie. Waar's Gerrit, waar's Engela? Ingrid Ingrid Ingrid Ingrid Ingrid
Dan sê iemand hier uit die agtergrond: Iemand sê jy lyk soos 'n uil op 'n kluit. En jy hardloop en jy lag, want dis tog waaroor die speletjie gaan. Die uil op 'n kluit. Jy kan sê wat jy wil, doen wat jy wil, maar moet net niks van die uil en die kluit sê nie. Jy vang die een wat dit van jou gesê het. Julle omhels en giggel, want dis nou daardie een wat nou haar beurt moet afwag. Ingrid.
Nou is dit jou beurt om te sê, jou kans om jou hart leeg te maak en die modder terug te gooi. Maar jy bly stil.
Want jy's mos nie so groot gemaak nie