Monday, April 14, 2014

Storieskrywer...

Ek dink ek het dit al baie vertel, maar ek het weer die afgelope tyd weer baie daaraan gedink. Ek wou nog altyd skryf. Verhale saamweef wat net deur dromes verstaan sal word. Reistogte na versteekte eilande, verlore liefde wat mekaar weer ontmoet. Nie geweld nie, want daarvan het ons genoeg. Ek het aan iets begin werk:
      Tarien


Die dorre Vrystaatssand maak die oggend lig rooi terwyl Tarien oor haar verlepte mielieblare uitstaar. “Ek wens dit wil reën” sug sy binne haar vroeë oggend koffie. Volgens teorie moes sy nooit volgens skedule geplant het nie en al die ander boere in die omgewing het net hulle koppe geskud terwyl sy dag in en dag uit op haar trekker die harde grond oopgebreek het. Die boorgat is al amper leeg van die droogte en die beeste is maer van die min voer wat sy elke maand by die ko-operasie kan koop, maar al waaraan Tarien vasklou is haar pa se stem:  “My kind, ons plant wanneer ons moet plant. Ons sorg dat die sade in die grond is en die Vader sal sorg vir die reën.”

 En dis waar dit gebly het. Ek het die hele storie in my kop uitgelê: Wie op wie verlief raak, Tarien se oorwinning van swakkeling tot oorwinnaar. Die nerd, Gerhardus, wat toe al die tyd awesome is... Daardie tipe ding. Maar ek kon net een paragraaf oor Tarien skryf. Lees mense nog ooit?

 Ek het 'n tweede verhaal probeer. Ek het lank daaroor gedink en ek het die openingssin uitgedink toe ek die dag baie depresief was. Diep in die onderste donkerte waar jy skaars die ligstale oor jou vingers kan voel spoel. Daar het ek aan iets gedink waaraan ek moontlik kan werk. Die verhaal van een persoon. 

Dit was die dag na my vyfde verjaarsdag toe my ma selfmoord gepleeg het. Ek onthou nie baie van haar nie. Soms, wanneer ek baie stil in die donker lê en ek kan skaars die krieke in die laatnag hoor, kan ek haar glimlag in my gedagte herken. Ek probeer foto's aan verhale koppel, maar al wat ek spesiek van haar kan onthou, hou verband aan daardie dag, die dag na my vyfde verjaarsdag toe my ma selfmoord gepleeg het.

Maar dan raak ek te hartseer, want vir my om so iets te skryf moet ek myself indink as iemand wat nie 'n ma na die ouderdom van vyf gehad het nie. Of ek begin dink wat as my seuntjie sonder my sal grootword? Ek wil nie dit mis nie. Hoe was dit vir die ma om nie te weet hoe haar kind uitgedraai het nie? Hoe is iemand wie ingeloop het en sy/haar ouer, kind, vriend te sien? Lewensloos? Asemloos? Droomloos?

Ek moet maar na die kinderverhale beweeg, maar dis nog 'n groter probleem, want ek kan nie teken nie.

 


Tuesday, March 4, 2014

Uil op 'n kluit

Toe ek 'n kind was, het my ouma ons van die speletjie vertel. Iemand is die uil op die kluit en die res van die maatjies gaan staan in 'n kring en bespreek jou. Sodra elkeen nou hul sê te sê gekry het en hul eie opinie oor jou nou uitsorteer het, kom staan hulle nou in 'n kring om jou. Die hoofmeisie sal dan begin:

Iemand sê jou asem stink. Jy raai dis Ingrid
Iemand sê jou bene is te wit vir die kort rokkie. Jy raai dis Ingrid
Iemand sê jy lag te veel. Jy raai dis Ingrid
Iemand sê jy mag nie gelukkig wees nie. Jy raai dis Ingrid
Jy doen jou werk nie. Ingrid
Jy mag nie jou eie kantoor hê nie. Ingrid
Hoekom bel jy nie die mense nie. Ingrid
Jys te vet. Jys te dom. Jou hare is nie gekam nie. Waar's Gerrit, waar's Engela? Ingrid Ingrid Ingrid Ingrid Ingrid

Dan sê iemand hier uit die agtergrond: Iemand sê jy lyk soos 'n uil op 'n kluit. En jy hardloop en jy lag, want dis tog waaroor die speletjie gaan. Die uil op 'n kluit. Jy kan sê wat jy wil, doen wat jy wil, maar moet net niks van die uil en die kluit sê nie. Jy vang die een wat dit van jou gesê het. Julle omhels en giggel, want dis nou daardie een wat nou haar beurt moet afwag. Ingrid.

Nou is dit jou beurt om te sê, jou kans om jou hart leeg te maak en die modder terug te gooi. Maar jy bly stil.

Want jy's mos nie so groot gemaak nie