Vanaf my eerste oomblik as ‘n mede-Kovsie, was ek trots om hier te wees. Op ‘n kampus wat gevul is met ‘n groot diversiteit van kulture wat in vrede kan saamleef, sonder die invloede van buite, want in die “grootmens” lewe, blyk dit maar of dit kletter...
Tog was ek so skaam om myself ‘n Kovsie te noem tydens die week van die verkiesing vir die nuwe SR 2007/2008
Ek het nog nooit regtig belang gestel in die SR nie. In my eerste jaar het ek slegs vir die voorsitter gestem, want hy was die pa van my koshuis. Die tweede jaar het ek basies net gestem omdat al die ander dit gedoen het, nie omdat ek regtig wou nie. Maar die jaar was dit so anders.
Ek verstaan dat die vorige SR baie gedoen het om die hoofkampus van die UOVS ‘n veiliger plek te maak, maar ek dink nie dis omdat dit die VF+ die party was van die SR nie, maar bloot omdat daar goeie kanidate was. Ek het ook al gereeld verby ‘n SR lid gestap, gegroet, maar moes net ‘n gluur terug ontvang.
Ek sien myself nog as ‘n jong volwassene en was vir my nogal ‘n skok om te sien dat die meerderheid studente wat vir spesifieke partye staan, jonger as ek is. Wat my ook verbaas het, is dat ek gesien het dat somige van die studente nie eers eerlik in hulle aktiwiteite was nie. Ek kan veral verwys na ‘n vereniging waarop een van die kanidate gesê het sy behoort, maar ek behoort aan die spesifieke vereninging en het haar nog nooit daar gesien nie. Dis wel iets klein, maar hoe kan dit ‘n ware beleid inlei?
Ek weet, die verkiesing is verby en dit gaan nie help om nou iets daaroor te sê nie, maar tog vreet dit my op om te sien hoe jong mense, met hulle hele lewe wat nog voor hulle lê, hul sielle kan verkoop aan die politiek.
Ek glo dat enige Universiteit sy studente toerus om sy/haar eie keuses te kan maak en met die nodige kritiek na ander te luister en bevraagteken. Wat word daarvan as die poliek betrokke raak wat almal net probeer vasvang in die beloftes en mooi praatjies, wat meeste van die tyd nie realiseer nie?
Almal het ‘n reg tot hul eie keuse, maar hoe word die spesifieke “Kovsie partye” nie beïnvloed deur die stigters van die “oorspronklike partye” nie? Soms moet ‘n mens net bereid wees om breër te kyk as dit wat voor jou geplaas word. ‘n Student is eintlik baie vatbaar vir die tipe invloede.
Ek het nie die jaar gestem nie, want ek stem nie saam met die feit dat die kampus moet lyk soos ‘n dorp voor die verkiesing van die landspresident nie. Ek is dalk die enigste een wat so voel maar as ek kyk na die hoeveelheid studente wat wel op kampus is en dat net ‘n klein deeltjie tog gestem het, kan dit dalk afgelei word dat daar ‘n ander metode moet gevolg word.
Ek studeer op Kovsies om ‘n graad te kry en om ‘n beter toekoms vir myself en my nageslag te gee, nie om ‘n politieke standpunt te bereik nie.